Saturday, December 25, 2010

Leierskap

Perry Noble skryf in die Christian Post oor vier mites wat leiers vernietig:

1.    Ek kan nie …

Dit kan tog nie wees nie. Ek is immers ’n dienaar van die Allerhoogste God. ’n Dienaar kan tog alles doen wat sy Meester hom beveel om te doen, want die dienaar tree op onder die mag en gesag van die Een wat hom geroep, toegerus en bemagtig het. Jy kan doen waarvoor God jou geroep het. Moenie terugstaan nie.

2.    Ek is nie so goed soos …

Om jouself met ander leiers te vergelyk, is die gouste manier om jou fokus op God en dit waarvoor Hy jou geroep het, te verloor. Ons moet leer van ander leiers, maar fokus op Hom. Daar sal altyd iemand wees wat iets beter as jy kan doen. Jou roeping is nie om mense na te boots nie, maar om op God te fokus.

3.    Ek het reeds vantevore misluk

Natuurlik het jy. Alle groot leiers het vantevore met betekenisvolle dinge misluk. Wat hulle groot leiers maak, is dat hulle nie toelaat dat hulle mislukkings hulle definieer nie. Hulle tel die stukke op en beweeg vorentoe. Hulle leer lesse uit hulle mislukkings. Onthou Petrus het misluk. Hy het die slaaf se oor afgekap en is ernstig deur Jesus vermaan. Maar op daardie eerste Pinksterdag was hy die persoon wat deur Jesus gesalf is om te preek – en meer as 3,000 mense kom tot bekering.

4.    Daar is geen hoop nie

Net een klein probleempie – die graf was leeg. Solank as wat dit ’n werklikheid is, is daar altyd hoop … altyd. Party van ons voel ons kan nie verder nie en beroep ons op Jesus. En sy antwoord? “Ek wag al lankal vir jou om my te roep.” As jy hoop verloor, word jy desperaat. Dit is juis hierdie intense desperaatheid wat dikwels lei tot ’n openbaring van God se mag. As ons desperaat is, herinner God ons aan wie Hy is en waartoe Hy in staat is.

Raak ontslae van hierdie mites en fokus op God.

Leierskap volgens Churchill

Brittanje staan alleen teenoor die magtige Nazi-leër. Net Winston Churchill, sonder baie hulpbronne behalwe sy visie vir die toekoms, staan tussen hulle en ’n verpletterende nederlaag. Twee weke na Churchill oorgeneem het, is Frankryk uit die oorlog en moes 340,000 Britse troepe sukkel om by Dunkirk te ontsnap. Die Duitsers beheer die hele Europa. Engeland se kanse om te oorleef, was skraal. Die situasie was hopeloos.

Churchill was in die politieke wildernis, want vir jare praat hy reeds die waarheid oor Hitler en die Nazi’s. Sy eerste toespraak aan die Britse volk na sy verkiesing as leier was brutaal reguit: “I have nothing to offer but blood, toil, tears and sweat.” Kort daarna nog ’n toespraak: “… we shall fight on the seas and oceans, we shall fight with growing confidence and growing strength in the air, we shall defend our island, whatever the cost may be, we shall fight on the beaches, we shall fight on the landing grounds, we shall fight in the fields and in the streets, we shall fight in the hills; we shall never surrender.” Dan die woorde wat sy persoonlikheid waarskynlik die beste opsom: “Never, never, never give up.” Dit herinner aan Prince Hal in Shakespeare se Henry V: “If you're going through hell, keep going.”

Die res van die verhaal is aan ons welbekend. Wat kan ons by Churchill leer as dit sleg gaan met ons?

 “Attitude is a little thing that makes a big difference,” was sy siening. Jou houding moet een wees van nooit, nooit tou opgooi nie. Die mense wat saam met jou werk, sal onmiddellik weet of jy dit opreg bedoel. As hulle sien jy is opreg, sal hulle gesindheid verander om by joune aan te pas. Dit stel jou in staat om die moeilike maar noodsaaklike besluite te neem.

Wees absoluut eerlik. Was iemand al reguiter teenoor sy mense as juis Churchill – “I have nothing to offer but blood, toil, tears and sweat.” Oorgawe was nie vir Churchill ’n opsie nie. Dit het hom in staat gestel om die moeilike besluite te neem. Ondersteun innovering. Churchill was ’n vroeë ondersteuner van tenks tydens die Eerste Wêreldoorlog. Deurslaggewend was sy vroeë ondersteuning van radar as ’n vroeë opsporingstelsel tydens die Tweede Wêreldoorlog.Hy het die mense wat hy gelei het verstaan. Hy het geweet wat hulle verwag het. Hy het gesê: “All the great things are simple, and many can be expressed in a single word: freedom, justice, honor, duty, mercy, hope.” Hy was gewillig om vir hulle te sterf. Churchill sterf op 24 Januarie 1965. Die Koningin beveel ’n staatsbegrafnis – die enigste vir iemand wat nie ’n lid van die koninklike huishouding was nie. Sy moed en toewyding het hom deur moeilike tye gedra. 

Die Christelike geloof is ʼn FEITelike geloof.

Josh MacDowell

Josh McDowell (Bewyse oor die Christelike Geloof) Skryf soos volg:

Die Christelike geloof is ʼn FEITelike geloof.

Die Christelike geloof beroep hom op die geskiedenis. Dit beroep hom op die feite van die geskiedenis wat deur almal duidelik herken kan word en wat toeganklik is vir almal.
J.N.D Anderson het D.E Jenkins se opmerking aangeteken: “Die Christelike geloof is gebaseer op onweerlegbare feite” (Anderson, WH, 10).

Clark Pinnock definieer hierdie feite soos volg:

Die feite wat die Christelike aanspraak ondersteun, is nie ʼn spesiale soort godsdienstige feite nie. Dit is nie kognitiewe, inliggewende feite waarop alle historiese, regs en gewone besluite gebaseer word (Pinnock, SFYC, 6-7).

Lukas, die eerste-eeuse Christen historikus, demonstreer hierdie waarheid in sy Evangelie en in die Handelinge. Lukas sê hy het daarna gestreef om ʼn geordende en akkurate historiese verhaal te skrywe van die dinge wat onder ons gebeur het. Hulle het dit opgeteken soos dit aan ons oorgelewer is deur die mense wat van die begin af ooggetuies en dienaars van die woord was (Luk. 1:1-2). Onder hierdie historiese, kenbare gebeure is die opstanding van Jesus, ʼn gebeurtenis se Lukas, wat deur Jesus self gestaaf is deur “baie onbetwisbare bewyse” voor talle ooggetuies in ʼn tydperk van 40 dae (vgl. Hand. 1:3).

Een van die doelwitte van hierdie “aantekeninge oor die Christelike getuienis” is om sommige van hierdie “onweerlegbare feite” bekend te stel en te bepaal of die Christelike interpretasie van hierdie feite nie verreweg die mees logiese is nie. Die oogmerk van die apologetiek is nie om iemand onwetend of teen sy wil te oortuig, om ʼn Christen te word nie. 

Die oogmerk, soos Clark Pinnock dit stel, “is om die bewyse vir die Christelike Evangelie op ʼn intelligente manier voor mense te bring, sodat hulle ʼn betekenisvolle oorgawe kan maak onder die oortuigingskrag van die Heilige Gees. Die Hart kan nie vreugde vind in wat die verstand as vals verwerp nie.”